Sunday, 11 November 2012

Die eerste Odendaal in Suid Afrika

Die eerste Odendaal in ons familie boom wat in Suid Afrika aangekom het se naam was Willem Odendaal. Hy het op die skip Brandenburg in die Kaap aangekom op 12 September 1705 nadat dit op 10 Mei 1705 vanuit Texel in Nederland vertrek het na Ceylon. Op daardie stadium was Willem Adriaan van der Stel governeur van die Kaap.

Die Brandenburg was 'n skip van die VOC (Verenigde Oostindiese Maatskappy) en Willem Odendaal het indiens getree as soldaat by die VOC op dieselfde dag as wat die skip uit Texel vetrek het.

Hy is c. 1685  gebore en was oorspronklik afkomstig van Cologne, Duitsland - of soos aangedui in dokumentasie van die VOC: "van Ceulen". Onderstaande is waarskynlik die oudste bekende rekord van sy reis en aankoms in die Kaap:












Ons weet nie baie van sy geskiedenis voordat hy by die VOC aangesluit het op 10 Mei 1705 in Nederland nie. Volgens gegewens moes hy toe 'n jong man van ongeveer 20 jaar oud gewees het. Ongelukkig het die argiewe van Cologne op 'n stadium afgebrand en is waardevolle inligting in hierdie verband vir altyd verlore. Die van "Odendahl" kom egter steeds vandag nog baie voor in die stad van Cologne.

Komende van Cologne is dit dus heel waarskynlik dat die oorspronklike spelling van sy van "Odendahl" was - d.w.s met die "ah" instede van die dubbel "a" op die einde. In Duits word die lang "a" gespel as sodanig - maar steeds dieselfde uitgespreek as die Hollandse dubbel "a". Dit is ook heel waarskynlik dat sy oorspronklike naam "Wilhelm" was, en dat met sy indienstrede in Nederland sy geskrywe name ver-"Hollands" is na "Willem Odendaal". Mens kan sekerlik aanvaar dat hy op daardie stadium redelik ongeletterd was en dat met sy diensaanvaarding sy naam en van as sodanig vertolk was deur die Hollandse VOC amptenaar aandiens daardie dag (10/05/1705).

Dit is ook belangrik om daarop te let dat hy waarskynlik die laaste Duits-sprekende was in ons Odendaal stamboom. Na sy aankoms in die Kaap het hy, eerstens, getrou met ene Sussanna Bierbouw (oorspronklik van Madagascar) en na haar erfsterwe met die 16-jarige Judith Nel (11 November 1714) - wie op 4 Augustus1698 in die Kaap gebore is en wie se ouers oorspronklik van Frankryk hier in 1688 aangekom het waarskynlik as Franse Hugenote vlugtelinge.

Mens kan geredelik aanvaar dat teen 1714 (9 jaar na sy aankoms) hy waarskynlik bitter min Duits meer gepraat het - maar besmoontlik 'n mengelmoes van Duits, Hollands en Frans - die oorspronklike bestandele van hedendaagse Afrikaans. Op daardie stadium was Mauritz Pasque de Chavonnes (van Franse afkoms) goeverneur van die Kaap.

Die eerste geslag Odendaal was juis gebore uit sy huwelik met Judith Nel - Willem Odendaal, gedoop op 10 November 1715 - NG Kerk, Stellenbosch. Volgens gegewens op hande was sy waarskynlike geboortedag 23 September 1715.

Hy het in 1709 uit diens van die VOC getree - as sg. vryburger. Oor sy doen-en-late weet ons nie baie nie behalwe dat hy op daardie stadium 'n bouer was. Daarna was hy 'n kleremaker en 'n boer. Hy is op 47-jarige ouderdom op 19 of 29 Januarie 1732 oorlede.

3 comments:

  1. Die res van die Odendaal stamboom is ver gevorder en is nagevors deur Michiel Odendaal en sy Vader voor hom. Die dokument beslaan al 205 bladsye. Alle persoonlikke navorsing kan aan Gerrie Odendaal gestuur word by gerrieodendaal67@gmail.com om die Odendaals meer volledig te maak.

    ReplyDelete
  2. Hi, Is hierdie blog nog aan die gang? My Ma is Odendaal gebore en sy en haar pa en sy pa is almal van Douglas in die Noord-Kaap. Ek sal graag verder wil uitvind oor die Odendaal stamboom navorsing wat beskikbaar is en hoop om van julle te hoor.

    ReplyDelete
  3. Môre, my ma is Alida Elizabeth Odendaal van die plaas Poortjie in die Vrede distrik.
    Later res van haar lewe in Harrismith. Was getrouwd met Adriaan Izak Odendaal van plaas Vaalbank (Verkykerskop) sy pa was Marthinus Petrus de Jager Odendaal, plaas Wattlegrove. Ek is opsoek na my ma se familie geskiedenis in Vrede aangezien ek my pa se geskiedenis gedeeltelijk het.
    Enige hulp asseblief.

    ReplyDelete